Sunday, August 26, 2012

Verlore Resepte

Ek het nooit regtig my ouma Koen van Nelspruit, aan my pa se kant goed geken nie. Vae herinnerinninge van 'n brose klein vroutjie in 'n wit hospitaal bed met kaal hospitaal mure flits deur my gedagtes.. Dan onthou ek haar trane wat weerloos teen haar wange af rol, toe sy ons groet en my hande vashou. Op die ouderdom van sewe was dit my eerste ondervinding met hartseer en 'n sterwende persoon aan my sy. My ouma was op die ryk ouderdom van 83 gereed om na haar ewige tuiste te verhuis, maar het uitstel gevra by God sodat sy ons nog een keer kon sien en kon vaarwel se. Ons het op die trein geklim vir ons terugreis, toe daar 'n dringende afkondiging is dat ons die trein moet verlaat. My ouma is dood en ons het gebly vir die begrafnis.

By die begrafnis was daar baie mense en dit was intens en smartvol. Ek onthou rou smart krete, trane wat soos hewige reen van mense se wange afgerol het. Sy was geliefd en selfs die personeel by die outehuis het geween. My pa was verpletter.

My erfporsie was 'n outydse bruin tas vol skatte wat betekenloos was vir my op daardie stadium van my lewe.
Die tas was gevul met 'n stel fyn porselein koppies, 'n fyn gehekelde tafeldoek, borduurwerk en handgeskrewe resepte. Daar was ook 'n antieke aandrok, blink aanklip oorbelle en vele vroue vereneging bors spelde.

Baie van my skatte het verlore gegaan deur die jare, eerstens omdat ek nie as tiener waarde geheg het daaraan nie en ook met die menige verhuisings na my ouers se egskeiding het van dit verdwyn.

Met hartseer dink ek nou daaraan dat sy haar allerbeste besittings gelos het vir haar enigste kleindogter. Wat ek nie vandag sal doen om dit te kan terug kry nie.

No comments:

Post a Comment