Ek dink met heimwee vandag terug aan my ouma (dis die een aan my ma se kant) en
hoeveel sy vir my beteken het. Kosbare kleintyd-herinneringe van hoe 'n groot
invloed sy op my lewe gehad het, is nog vlak in my geheue. Van die vele dinge
wat ons saam gedoen en ervaar het, was skulpdiertjies maak, hekel, naaldwerk,
koekies bak, moer koffie drink en Humbugs lekkers eet, is van die dinge wat
eerste in my gedagtes kom. Haar spieeltafel kan ek nog presies onthou met die
hekel lappies, die bottel 4711, die potjie snuif, koekie Vinolia-seep en die
juwelierskissie. Op haar bed was haar pop met die oe wat oop en toe kon maak en
wat ons nie aan mag raak nie.My ouma was lief vir die kos potte. Waneer sy nie self gekook het nie, was sy lief om haar opinie vrylik uit te spreek oor my ma se kos. Afval en bron was van haar gunsteling geregte. Ek het erg gegril daarvoor, en vir haar viskoppe met die oe wat nog vir jou loer. Dan is daar nog tong, wat uit 'n bees se mond kom. Noem my maar snobisties, maar oor kos kon ek nie met haar ooreenkom nie. Dan was ek ook bang, dat haar snuif dalk ook in die kos beland, aangesien die blikke snuif altyd naby was.
My ouma was 'n diep mens en het geglo boeke verwoord emosies waarvoor jy nie self woorde het nie. Ek glo dis die rede waarom ek altyd lees waneer ek hartseer of emosioneel is. Haar uitsondelike gesegdes gebruik ek nog vandag en ek dink ek van haar kreatiewe talente het ek geerf.
No comments:
Post a Comment